Nuusbrokkies
Francois en Elizabeth Fourie Ligte Musiek Geestelike Musiek Kinderliedjies Bladmusiek
Tuesday, May 21, 2019
[1] Visitors Currently Online
Nuusbrokkies
Voeg by Gunstelinge

Nuusbrokkies


Ouma en Oupa dae ...
Vroeer sou ons optree by Ouma en Oupa-dae en so ewe dink dat ons vir die "ou mense" gaan sing ... maar nou dat ons self

Lees Verder...


Pitkos


MOENIE MET OU TANNIES MORS NIE
MOENIE  MET OU TANNIES MORS NIE              

Lees Verder...


Terugvoering


Seniors Paasontbyt, Centurion 16 April
Goeie more! Ai wou gister al vir jou geskryf het. Julle is 'n gedugte span. Ons is oorval met komplimente oor die oggend

Lees Verder...

 

Nuusbrokkies


April 24, 2019
Ouma en Oupa dae ...

Vroeer sou ons optree by Ouma en Oupa-dae en so ewe dink dat ons vir die "ou mense" gaan sing ... maar nou dat ons self ouma-en-oupa is, voel ons ons gaan sing vir ons  "vriende"!! Hierdie tipe optrede val so reg in ons kraal: dis kinderliedjies vir die kleintjies waarvoor ons so lief is, sowel as musiek vir senior-mense wat baie goed met ons klank en styl identifiseer. Ons is juis op 9 Mei weer oppad na Benoni vir so 'n oggend by Laerskool Brentwood Park. Bespreek gerus nou jou skool se volgende ouma en oupa dag - dis soveel pret!


April 2, 2019
Dis herfs .... dis paastyd

Ons is genooi om op 14 April 'n Paas Sangdiens te gaan aanbied, by N G Kerk Fairland in Johannesburg. Toe ons begin om ons program vir die oggend saam te stel, het ons net weer onder die indruk gekom van God se wonderbare liefde, wat Hy bewys het deur Jesus se kruisdood en opstanding. Hoe groot is Sy genade! Kom loof Hom saam met ons, dit begin 09h00 en almal is welkom - daar gaan 'n dankoffer vir die gemeente opgeneem word. 


December 31, 2018
BESTE WENSE!

Baie dankie aan al ons dierbare musiek-vriende, vir die gasvrye ontvangs,  vir julle liefde en ondersteuning - waar ons ook al aankom en optree.

Ons is trots op die kaliber mense wat die vreugde van musiek met ons deel.

Ons wens julle 'n goeie 2019, en kom kuier graag in julle omgewing!

Groete - Francois en Elizabeth  


December 3, 2018
KERSFEES KOM ....

Heeltemal te vinnig het nog 'n jaar verby geskiet en hier is ons reeds in die kersgety. Baie dankie aan almal wat ons bespreek vir 'n Kers-sangdiens, en vir almal wat dit kom bywoon - dit bly vir ons 'n wonderlike voorreg en ervaring om op so 'n manier die Blydskap van Kersfees te kan oordra. Eerskomende Sondag oogend die 9de Desember, is ons by NGKerk Vaalrivier, vir beide dienste 08h30 en 10h00. Almal welkom. 


October 6, 2018
Deur 2018 op 'n drafstap

Dis 'n besige jaar, baie ekstra dinge tesame met die musiek. Ons het die groot voorreg gehad van 'n besoek aan die Okavanga Delta saam met ons boeties en sussies. Ons het Andrea Bocelli se jaarlikse optrede in sy tuisdorp, Lajatico, Italie, gaan bywoon, en ook 'n Mozart musiekkonsert in een van Wene se pragtige nostalgiese teaters. Op familie front, het ons ouma Stienie se 90ste verjaardag gevier; en vir Lua gedoop tydens 'n baie spesiale geleentheid hier op Vaal de Grace. Ek het onlangs 'n splinternuwe heup gekry, en Francois is gesond na 'n skouer operasie. .... julle verstaan dus waarom ons lanklaas ons webwerf 'n bietjie opgeskerp het!! Ons optredes vir die res van die jaar, begin weer op 15 November met 'n kers-konsert vir die seniors van Hartebeesfontein. Volle besonderhede van ons toerprogram,  is beskikbaar onder "optredes". Dankie vir julle gebede, musiekvriende. Ons weet daar is baie mense wat vir ons intree. Dit is so kosbaar  vir ons!


March 29, 2018
LOFSING DIE OPGESTANE JESUS!

Saterdag aand loof ons die HERE saam met die EGKerk by Eden kampterrein, Moloto, buite Pretoria. Wat 'n voorreg. 


March 9, 2018
Lekker kuier in ons tuisdorp

Woensdag 15 Maart kuier ons by Kosmos Sion, die senior mense van ons AGS  Gemeente in Parys. Daar's lekker konsert, en kuier agterna oor 'n koppie tee en iets te ete. Dis 10h00, by die AGS Kerk en Saal, hoek van Loop- en St Jan straat. Kaartjies by die deur, daar's altyd nog plek- julle kan net kom! Navrae: Sophie, 0824399482.


February 18, 2018
MY BESTE VIR JESUS in VANDERBIJLPARK

Ons voel al soos ou vriende by die NGKerk Suid, in Vanderbijlpark. Volgende Sondag is ons weer daar met 'n sangdiens vir die hele gesin, "My beste vir Jesus". Almal is welkom om saam te kom. Dit begin 09h00 en die kerk is op die hoek van Verdi en Mahler straat. Ons bring geestelike albums en dvd's te koop saam, daar is vir grootmense en vir kinders - 'n verskeidenheid om te kies.

Hoop om julle daar te sien! 


February 7, 2018
R18000 se mieliepitte vir Sutherland se diere

Dankie aan NG Parys- Wes en al die mense van Parys wat Sondag aand ons kerk vol gesit het om te kom sing en bid en bydra tot Sutherland se Dankbaarheids Hulpfonds. R18000 se offergawes is opgeneem, absoluut oorweldigend vir ons - soveel omgee en liefde onder doodgewone gelowige kinders van die Here.Wat 'n groot geleentheid was dit; iets wat ons lank sal bybly! Sutherland se Kooperasie het laat weet dat daar mieliepittte aangekoop gaan word sodat die diere kan oorleef in die droogte tye. Mieliepitte ... so 'n basiese ding, so 'n nodige ding. Laat ons tog nooit tred verloor met basiese behoeftes wat versil kan maak tusen lewe en dood nie. 


February 1, 2018
PARYS SING VIR SUTHERLAND

Ons het onlangs 'n aangrypende brief uit Sutherland ontvang, waar ons gevra is om 'n konsert te hou ten bate van die Dankbaarheids Droogtehulp Fonds. Sutherland gaan gebuk onder die swaarste droogte in 100 jaar. Ons het besluit dat in sulke omstandighede, mense sekerlik ook in hulle gees droogte beleef. Daarom gaan ons nie 'n konsert hou nie, maar 'n bid-en-sangdiens. Dan kan ons vir Sutherland intree, en ook die kollekte van die aand stuur vir die droogtehulp. Ons ken Parys se mense as baie meelewend. Ons weet ons kan reken op hulle ondersteuning in hierdie verband. En al wil jy van ver af ry - almal is welkom. Ons gaan sing, en bid, en blywees oor ons Vader, wat nooit Sy kinders sal vergeet nie. Dis eerskomende Sondagaand in NG Kerk Parys Wes, om 18h00. Kom nes jy is. Een tannie skryf uit Sutherland: "My oom het altyd gesê - as dit nie reën nie, le die skaap paadjies oop" ... wat beteken dat daar in sulke tye, nie nogigheid is vir opsmuk nie. Die waarheid lê oop. Kom nes jy is. 


December 22, 2017
VREDE VIR JULLE

Aan al ons dierbare musiek vriende:

Baie dankie vir julle liefde, gasvryheid en ondersteuning! Ons lewe is ryker met hierdie land se mense, wat so goed vir ons is en ons altyd met soveel oorgawe ontvang.

Ons wens julle 'n geseënde Kerstyd toe saam met vriende, kinders en familie.

En vir julle wat alleen is en swaarkry - dat ons Vader julle spesiaal sal omvou en julle sal omring met 'n skare engele so reg uit die hemel.

Liefdegroete in Jesus!

Francois en Elizabeth


November 20, 2017
KERS-KOORFEES SAAM MET KOLLEGEPARK EN MEER ....

Dinsdag aand 21 November om 18h30, is dit KersKonsert by die new Life Sentrum in Vanderbijlpark, saam met die Kollegepark Laerskool kore. Altyd iets besonders. Die opregtheid waarmee kinders die HERE loof en vir Jesus liefhet, spreek tot elke grootmens. Kom beleef dit! Woensdag aand ry ons na Potcheftroom vir die Kers afsluitings-ete van Potch Dienssentrum. Sanet en Wendri is soos twee engele in die seniormense van Potch se lewens. Dit gaan 'n puik aand wees. Dis ons eer om as gaskunstenaars op te tree. Saterdag kuier ons in Postmasburg saam met die ouer mense. Lekker konsert, lekker saam eet en kuier. Kontak Karen Herbst 0748934939. En as jy Sondag oggend 26 November in Kimberley is, kom loof die HERE saam met ons by die AP Kerk, Die Kruis.Dit begin 09h00 en enige iemand kan kom. Sondag aand is dit Kers Sangdiens in die pragtige NG Moederkerk in Colesberg. Dit sal so lekker wees om jou daar te sien! Almal welkom.


November 16, 2017
Van Betlehem tot Rayton

Altyd 'n vreugde om konsert te hou saam met 'n spannetjie opgewonde kleuters, met ewe opgewonde ouers, oumas en oupas in die gehoor. Ons weet al - hulle kyk nie regtig vir ons nie - maar hou daardie kind van hulle op die verhoog dop - sonder om 'n oog te knip!! Maar ons gee nie om nie. Musiek bring soveel vreugde! Vanaand kuier ons saam met die Kiddies Klub in Betlehem. Kom vroeg! Dis altyd baie vol! Sondag aand sing ons SOMERKERSFEES by NGKerk Rayton. Dit begin 18h30. Almal is welkom ... tyd vlieg ... soos die liedjie se woorde sê..... Kersfees kom .....


November 7, 2017
Somerkersfees in Sasolburg

Eerskomende Sondag aand 12 November, bied ons ons Kers sangdiens aan by NGKerk 4 Ankers, Felix Stowe straat, Sasolburg. Dit begin 18h00. ALMAL WELKOM! SomerKersfees CD beskikbaar @R100.


October 31, 2017
SOMERKERSFEES

Somer Kersfees

Alhoewel Francois en Elizabeth se musiekloopbaan afgeskop het met ‘n goue  ligtemusiek treffer, “Wil jy dans Carina”, het hierdie geliefde sangpaar hulleself ook met die loop van tyd onmiskenbaar gevestig op die geestelike musiek terrein, met ‘n hele paar geestelike albums en treffers op die mark.

Daar was lankal reeds navrae vir ‘n opname van hulle Kersaanbieding, SOMERKERSFEES. Nou het Francois en Elizabeth aan die versoek voldoen en bied met groot trots hierdie unieke album aan.

SOMERKERSFEES bestaan uit ‘n samestelling van verse en voorlesings vir Kersfees, asook al die geliefde kersliedere soos Bethlehem ster, Die Heiland is gebore, Jerusalem, Somerkersfees, Stille nag, Al was ek nie daar nie, en vele meer. Hierdie is ‘n saam-luister en saam-sing album vir in die huis of motor, ‘n Kerssangdiens vir gemeentes en selgroepe, en ‘n viering van die Kersboodskap vir families en vriende wat graag bymekaar kom in die kerstyd. Dis die ideale geskenk vir ouer mense, wat nie meer kan uitgaan om ‘n sangdiens by te woon nie, of vir Afrikaanse gesinne in die buiteland wat nie ‘n Kerssangdiens in hulle eie taal kan geniet nie.

Die eerlike en oortuigende styl waarmee Francois en Elizabeth SOMERKERSFEES lewendig aanbied, het in die verlede reeds baie harte geraak. Met hierdie album kry mense oor ‘n breër spektrum nou die geleentheid om hierdie inspirerende Kers-reis mee te maak.

SOMERKERSFEES is beskikbaar by musiekwinkels soos Musica, Music4U en Cum Boeke, asook  by www.francois-en-elizabeth.co.za




Archives

 

Nuusbrokkies
©2007 - 2019 Francois en Elizabeth (EF Musiek) en hul lisensieerders. Alle Regte Voorbehou.
Webwerf Ontwerp en Diens Verskaffing deur www.edisc.co.za