Welkom by Francois en Elizabeth Fourie se tuisblad!
Ons is bly jy het kom kuier. Ou vriende, nuwe vriende, almal is welkom!
Ons storie...
Francois en Elizabeth sing reeds sedert hulle studentejare in Pretoria saam. Met die weghol sukses van hulle eerste goue treffer "Wil jy dans Carina" , het Francois en Elizabeth se musiekloopbaan oornag vlerke gekry .
Francois en Elizabeth woon op Parys in die Vrystaat. Hulle het drie kinders: Liezl, Chris (skoonseun) en Minnette. Francois hèt 'n "regte" werk - hy skryf polisse - en Elizabeth skryf die liedjies.
Musiek neem hulle op ver paaie deur Suid-Afrika en sy buurlande. Op Aardklop , die KKNK en ander Kunstefeeste , was hulle deel van die Stoep-storie span, en het Elizabeth verskeie kinderproduksies aangebied . Francois en Elizabeth is verskeie kere uitgenooi om oorsee op te tree, onder andere in Nederland, Duitsland, en Australië.
Francois en Elizabeth is gereeld op TV te sien, in programme soos Noot vir Noot , ROER! , Jukebox, en Kwêla. Daar is verskeie toekennings deur die SAUK , Voortrekkers , Vroue Landbou Unie , die ATKV en Rapportryers . Op ‘n optrede in Amsterdam , is hulle met ‘n spesiale toekenning vereer deur die Nederlandse Vereniging vir die Bevordering van die Afrikaanse Taal.
Francois en Elizabeth lê hulle toe op ‘n wye verskeidenheid van ligte musiek, geestelike musiek en kinderliedjies. Van hierdie albums spog met toekennings en nominasies deur die SAUK, die ATKV, VONK, RAPPORT en HUISGENOOT TEMPO. Sewe van Elizabeth se liedere is opgeneem in die nuwe F A K Sangbundel, wat later vanjaar uitgereik word. 'n DVD, HARTSPORE, met die beste van 21 jaar se trefferliedjies, is onlangs uitgereik. Francois en Elizabeth werk tans aan 'n nuwe geestelike album wat in Meimaand beskikbaar sal wees.
Met 'n kwaliteit van musiek wat die toets van die tyd weerstaan het, en met sprankel-persoonlikhede wat hulle geliefd maak by elke gehoor, is Francois en Elizabeth welverdiend deur 'n vroue-tydskrif as die beste sangpaar in Suid Afrika aangewys.
Francois en Elizabeth se lewens uitkyk is een van vreugde. Hulle glo daaraan om die beste van elke dag te maak, en om met elke optrede, hulle gehoor te inspireer om die lewe te waardeer.
" Die lewe is tog die moeite werd - kom deel die lekkerte daarvan saam met ons!"
Geniet ons Web Tuiste en laat weet ons gerus wat julle graag meer van sal wil sien!
|